Tuin (Hemel / Koninkryk / Woning / Liggaam / Gemeente)

(Terug na Inhoud)

(Gaan na Hemel)

(Gaan na Tempel / Woon)

(Gaan na Liggaam)

(Gaan na Gemeente)

'n Stukkie inligting om oor na te dink:

Skrywer: Onbekend.en inligting versprei deur www.bybel.co.za

'n Graf in 'n Tuin:

Is dit dalk waarom blomme grafte dikwels versier?

Blomme verkondig hoop, 'n NUWE LEWE. Die simboliek is inderdaad treffend. Ja, 'n tuin spreek van lewe, self na dood en verderwing.

In 'n sekere sin is 'n bedding in 'n tuin self 'n graf. 'n Saad word gesaai, die saad gaan tot niet (sterf), 'n nuwe plantjie, 'n nuwe lewe kom na vore, die verganlike is vervang met onverganklike, die onsterflike - Luk 8. Tereg sê 1Kor 15:36 "Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie".

So was Jesus se graf ook 'n saadbedding van Josef van Arimathea se tuin - Joh 19:38-42. Maar die saad wat daardie laatmiddag daarin gesaai is, was die LEWE. Hy het immers gesê: "Ek is die Opstanding en die Lewe".

"En in die tuin, 'n nuwe graf." - vers 41 . Ja, Josef se lentetuin het byvoorbaat die boodskap aangekondig: Maak Hom maar dood, Balsem Hom, Lê Hom maar weg in die graf. Hy sal nie daar gehou word nie, Soos die oënskynlik "dooie" saad oopbreek en nuwe lewe voortbring, sou die graf ook oopgaan en Hy sou opstaan - die verheerlikte, verrese (opgestaan - veral uit die graf) Christus!

Die oënskynlik minder belangrike gegewens het duidelik 'n simboliese (sinnebeeld) betekenis. Hy vertel van Judas: Nadat Jesus hom as sy verraaier uitgewys het, het hy uitgegaan, vers 30 wat sê: "En dit was nag": Johannes impliseer daardeur meer as die donkerte buite - dit het nag geword in Judas se lewe, nag waaroor die son (van geregtigheid, Mal 4:2 en Ps 84:11) nooit weer sou opkom nie.

So moet Joh 19:41 ook in dieselfde lig gelees word. 'n Graf en 'n tuin het heelwat in gemeen, want die natuur is ook gebonde aan die wet van die dood en verderwing. Sekere tye verwelk en verdroog blare en blomme. Die werklikheid van dood en verganklikheid kan in 'n tuin duidelik gelees en vertaan word.

'n Tuin spreek egter ook van opstanding en nuwe lewe. Jesus is waarskeinlik juis tydens die lente begrawe. Lente in die tuin is vol tekens van nuwe lewe - nuwe blare en blomme, nuwe stingels, lote en plantjies wat deur die grond breek, saad wat uitloop (opstanding). Johannes doen moeite om te sê dat die graf van Jesus in 'n tuin was, 'n tuin wat in die teken van lewe gestaan het.



'n Kruis, 'n Graf en 'n Tuin (Joh 19:38-42):

Johannes is die enigste evangelis wat vertel van 'n tuin naby die kruis.

(Die Tweede Tuin teen die Eerste Tuin)

Besondere gebeure het deur die geskiedenis van die Bybel in tuine afgespeel.

In 'n tuin (Eden) het die die DOOD en die graf sy mandaat gekry toe die Eerste Adam aan God se wil en opdrag ongehoorsaam was. In die tuin by Golgota is die DOOD en die graf OORWIN en het die Laaste Adam daaroor getriomfeer - Open 1:18 Nuwe vertaling "Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid, Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood."

In 'n tuin (Eden) het die DOOD sy grootste oorwinning behaal, maar daardie oorwinning in 'n tuin omgekeer. In 'n tuin het die DOOD sy angel gekry; in 'n tuin het Christus die angel verwyder. In die eerste tuin het sonde begin; in die tweede tuin is die sonde oorwin. In die eerste tuin is die mens se sonde gebore / ontvang; in die tweede tuin is dit begrawe.

Die Eerste Adam is uit die tuin in die wildernis verdryf; die Tweede Adam is van die wildernis van verlatenheid en vernedering na die tuin. Christus begin waar Adam geëindig het en Hy eindig waar Adam begin het. Uit die Eerste tuin het Adam die DOOD voortgebring; uit die Tweede tuin bring Jesus lewe voort. Die graf in die tuin is die eindresultaat van die sonde en die dood wat Adam en Eva in die eerste tuin gebring het.

Christus se doel was ook om die mens weer met God in die eerste Tuin te versoen, want aan hom wat oorwin, die oorwinning oor die dood en sonde, sal gegee word om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys - die eerste Tuin - van God is. Openbaring 2:7

Ou Testament

*Genesis 2:8 ¶ Ook het die HERE God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee.

Genesis 2:9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Genesis 2:10 En daar het 'n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword.

*Genesis 2:15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.

Genesis 2:16 ¶ En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,

Genesis 2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

*Genesis 3:1 ¶ Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Genesis 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,

Genesis 3:3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.

Genesis 3:6 ¶ Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Genesis 3:8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin.

Genesis 3:10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.

Genesis 3:11 ¶ En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?

Genesis 3:12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.

Genesis 3:17 ¶ En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie--vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.

Genesis 3:22 ¶ Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!

Genesis 3:23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.

Genesis 3:24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

Genesis 13:10 ¶ Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.

Jesaja 51:3 Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.

Jeremia 17:8 Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.

Esegiël 28:13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.

Esegiël 31:8 Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie, en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie.

Esegiël 31:9 Ek het hom mooi gemaak deur die menigte van sy takke, sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het.

Esegiël 36:35 En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon.

Joël 2:3 Voor hom uit verteer 'n vuur, en agter hom brand 'n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit 'n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie.

Daniël 4:10 Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref--ek het gesien, en kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot.

Daniël 4:11 Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.

Daniël 4:14 hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke.

Daniël 4:20 Die boom wat u gesien het--wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was,

Daniël 4:23 En dat die koning 'n bode, naamlik 'n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het--

Daniël 4:26 En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan--u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.

Psalms 1:3 En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

Spreuke 11:30 ¶ Die vrug van die regverdige is 'n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys.

Nuwe Testament

Matteus 3:10 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Matteus 7:17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar 'n slegte boom dra slegte vrugte.

Matteus 7:18 'n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.

Matteus 7:19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Matteus 12:33 Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.

Matteus 13:32 wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.

Lukas 3:9 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Lukas 6:43 Want dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie 'n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.

Lukas 6:44 Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk 'n mens tog nie vye nie, en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie.

Lukas 13:19 Dit is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en 'n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke.

Openbaring 2:7 Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Openbaring 7:1 ¶ En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.

Openbaring 9:4 En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.

Openbaring 22:2 In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.

Openbaring 22:14 Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

(Terug na Bo)