Hoofstuk 24

Doop met die Heilige Gees en vuur:

 

U kan ook deur gaan na die tekse wat handel oor die Heilige Gees wat aansluiting vind by hierdie onderwerp, deur net op die woord in blou te kliek.

( Terug na Inhoud )

Weereens wil ek die volgende teks vir u voorhou, sodat ons nie die geestelike uit die oog verloor en dan geestelike dinge op 'n natuurlike wyse probeer verstaan nie.

Die volgende teks is baie belangrik omdat ons die Bybel gekry het, nie as 'n geskiedenisboek nie maar as 'n boek wat ons vandag moet gebruik en in ons lewe van toepassing maak, ander dien dit geen doel nie. Hierdie boek is dan ook vir ons 'n padkaart tot saligheid en die ewige lewe, m.a.w. tot God. So moet ons dan ook die volgende teks mooi lees en verstaan en die skrifte ooreenkomstig dit lees en toepas.

1Kor 2:13-14

13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Kom ons begin by Mat 28:19 " Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het." God gee ons dus die taak om dissipels te gaan maak van alle nasie, tale, tonge en geslagte, ja vanuit die see, die Egipteland en mag van duisternis. Maar deel van die taak is dan om hulle te doop, in die drie eenheid, wat sou dit beteken?

Dit wat ons hulle dan moet leer om te onderhou is soos Deut. 6 vir ons sê; "vers 1 ¶ Dit is dan die gebod, (die liefde) die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem; vers 2 dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou--jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word. Vers 3 Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Vers 4 ¶ Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE. Vers 5 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. Vers 6 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; Vers 7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Vers 8 Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees. Vers 9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe."

Ons kry ook nou twee soortige dope naamlik:

a. die sakrament, wat ook die heilige doop genoem word en

b. die ware doop.

Wat is nou die verskil?

Die sakrament is 'n simbool wat deur almal op verskillende wyses vir spesifieke redes gedoen en toegepas word, maar eindelik dien dit net as 'n bevestiging van dit wat vooraf gebeur het deur middel van die ware doop. Dit maak eindelik nie regtig saak op watter wyse dit gedoen word nie want dit gaan nie oor die afwassing van die vlees, die natuurlike liggaam nie maar om 'n rein gewete. Die ware doop is juis dit, dat die gewete en gedagtes in die hart van die mens, nie pompstasie van die bloed nie maar die hart van jou verstand. Wat beteken dit, kom ek verduidelik dit so, as ek praat van die hartjie van die bosveld, waarna word verwys? Dit is die middelpunt, die kern van die bosveld waarna verwys word. So is dit dan ook die verwysing na die hart van die verstand want die verstand is dan ook deel van die natuurlike liggaam maar dit is die kern van die liggaam waarin alle denke plaasvind, waar jou siel gereinig sal word.

As ons na die woord doop gaan kyk en sien wat dit beteken dan is dit soos volg; dit beteken baptise of babto wat afwassing van iets met water beteken.

Die ware doop is dan ook om die woord te verkondig aan iemand, die woord, die evangelie is dan ook die heilige lewende water wat daar mee gedoop word. Kom ons bevestig dit deur die volgende tekse. Mark 16:15-16 " vers 15 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Vers 16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word." Die mensdom word mooi in die engelse bybel beskryf as “and preach the Gospel to every creature" wat skepsel beteken.

Daar bestaan drie dinge in die doop:

a. dit is die Heilige teken en seël deur God in die kerk ingestel,

b. dit is 'n waarborg vir saligheid en vergifnis van sonde,

c. dit is 'n geestelike reiniging.

Kom ons kyk na Mark 1:4 "Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig." Wat ek hiermee wil sê is dat almal maar almal deur hierdie doop van Johannes moet gaan, die doop met water. Egter wil ek u daarop wys dat ek verwys nie na die simbool nie maar na die ware doop deur middel van dit wat Johannes gaan predik het, hy het die mens gaan doop met die water, die heilige water van evangelie, hy is die evangelis, ja hy het gaan doop is die woestyn, wat eindelik nie 'n plek is met baie water nie, maar gaan lees weereens die engelse gedeelte (Matthew 3:1 ¶ In those days came John the Baptist, preaching in the wilderness of Judea,) en u sal sien dat hy nie in 'n natuurlike woestyn gaan doop het nie, nee hy het in 'n geestelike woestyn waar die evangelie nie deur die mens bereik is nie of verstaan is nie, waar die behoefte van geestelike water bestaan het, daar het hy gaan doop, lees van vers "1 ¶ Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Vers 2 Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak-- vers 3 die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!" Die doel van die Johannes doop is om die koms van Christus voor te berei en om Christus aan die mens, die wêreld te gaan openbaar, want die mens, die wêreld verwag nog dat Christus op 'n natuurlike wolk moet kom, 'n geestelike gebeurtenis wat op 'n natuurlike wyse moet gebeur maar ons weet dat ons geestelike dinge met geestelike dinge moet vergelyk daarom verwys ek na die wolk van getuienis waarin die Christus tot daardie mens geopenbaar en te voorskyn sal kom. Lees die volgende klompie tekse:

Matteus 3:1 ¶ In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa

Matteus 3:2 gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

Matteus 3:6 En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes.

Matteus 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

Hierdie doop gaan oor die geestelike reinigings proses sodat ons rein kan word, rein beteken dan ook om maagdelik te kan word sodat ons deel kan wees van die bruid, 2Kor 11:2 "Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel." As ons die engelse woord "virgin" vat dan sal ons sien dat dit beteken skoon, rein maar ook maagdelik, ek verwys na bv. Virgin plastic, bedoelende egte, skoon en rein plastiek. Daarom sê Jakobus in 1:21-27 "21 Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. Vers 22 En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Vers 23 Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; vers 24 want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Vers 25 Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen. Vers 26 As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs. Vers 27 Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld." Hy sê dat ons moet afstand doen van ons lewenswyse en bekeer, omkeer na God, sodat hierdie woord van God ons siele kan red. Ons moet nie net aanhoor nie maar dit doen, ons moet dit in 'n daad omskakel, m.a.w. ons moet daarin begin lewe. Johannes sê in Joh 7:38-39 "Vers 38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. Vers 39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie." Hierdie strome is strome van die evangelie wat sommer by jou sal uit borrel, dit sal vol lewe wees. Die skrifte verwys ook na Noag as 'n sinnebeeld van die doop want hy sê dat agt siele gered is: 1Pet 3:20-21 "vers 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; vers 21 ¶ waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete--deur die opstanding van Jesus Christus" Baie duidelik word dit hier aan ons meegedeel dat die doop nie om die afwassing van die mens se natuurlike liggaam gaan nie maar om 'n rein gewete, wat ons verkry deur die bloed van Christus, ja waardeur ons besprinkel word en gewas word.

Nou kan ons begin sien wat dit behels om in die drie eenheid gedoop te word, want dit is dan ook die doop van Christus en dit is ook soos volg; Mat 3:11 " Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur." Ons sal dus nie alleen met die evangelie gedoop word nie maar met meer krag en dit is met die vuur van God soos ons in die gedeelte van "God is 'n verterende vuur" gesien het en dat ons deur middel van die Heilige Gees die doop met vuur deelagtig word, 1Kor 12:13 " Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge." Dit beteken dat ons dan tot een liggaam gedoop word, ja tot die liggaam van Christus wat die kerk is, die kerk van God, nie tot soveel kerke daar is nie maar tot een kerk alleenlik. Ek wil u weereens wys dat dit die vuur, God self is wat ons mee gedoop word, Deut 4:24 " Want die HERE jou God is 'n verterende vuur, 'n jaloerse God." Dus die doop met vuur is die doop met die Heilige Gees en is ook die doop van Christus. Heilige Gees beteken ook, wind, asem en Gees. Dit word deur Joh 20:22 gestaaf waar die Heilige Gees op die dissipels gekom het; " En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees." So is dit dan ook dan ons ook deur middel van die wedergeboorte proses hierdie doop deelagtig raak want dit staan ook geskrywe dat ons in die doop moet bly en ons kan sekerlik nie onder of in water bly nie, ons sal sekerlik versuip. Titus 3:4-5 "4 Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het-- vers 5 nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees vers 6 wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;"

Ons het reeds gesê dat God hierdie dinge, die doop deur middel van Sy dienskneg, ek en u, bewerkstellig en dat God ons die krag daartoe gee, so bevestig Spr 18:4 ook vir ons; "Die woorde van 'n man se mond is diep waters, 'n stroom wat bruis, 'n fontein van wysheid." en ook in Jer 5:14 " Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond 'n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer" Baie duidelik word die verganklikheid en die vuur weereens tot ons beklemtoon uit die genoemde teks. Ook wil ek u verder verwys na Es 47 "Die Heilige Waters", gaan lees dit vir u self deur.

God bewys dan dat Hy aan ons hierdie krag gegee het deur eerstens te sê dat ons, die wedergeborene na Sy beeld en gelykenis geskape is, ook sê Hy dat Hy ons van Sy Gees gegee het, maar in Mat 5:13 bevestig Hy ook dat ons Sy beeld is; "Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Vers 14 Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;" maar dit sê ook dat ons die sout is van die aarde, maak dit op 'n natuurlike wyse vir u enige sin, nee! Kom ons verklaar die sout, sout soos ons weet verkaf smaak aan voedsel, dit voorkom dat iets soos vleis bederf en daarom word biltong, rou vleis gesout. God sê dan ook dat ons hierdie taak en bestandeel van die wêreld is, m.a.w. ons moet die wêreld gesond maak, die bederwing wegneem, maar dit sê ook dat ons oppas dat hierdie sout nie bederf nie, smaakloos word nie want sulke sout word net weggegooi. Mark 9:50 "Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar." en vers 49” Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word." Hier bevestig dit dat ons met vuur gesout sal word, maar dit sê ook dat ons met vuur weer gesout sal word indien dit laf sou word. So, wat is die sout dan? Die sout is die Heilige Gees wat ook die vuur is maar wat ook God is.

Die dinge wat ons dan onrein maak is soos Mark 7:15 sê; " Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak." die dinge wat ek en u praat, ons handelinge en wandelinge. Vers 20-23 " En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Vers 21 Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, vers 22 diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Vers 23 Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein."

Kom laat ons ons bekeer, word die wedergeboorte deelagtig en verhoed, bewaar jouself en waak dat jy nie na die ou dinge terugkeer en God vergeet wat jou uit Egipteland, die mag van duisternis, uitgetrek het nie.

Die volgende opklaring gaan oor die wedergeboorte , wat ook deel uitmaak van die vuur en die doop. Kliek nou op die woord in blou en u sal terug skuif na die betrokke hoofstuk (Hoofstuk 1)

( Gaan terug na Bo )