Hoofstuk 11

Opstanding:
U kan ook deur gaan na die Opstanding wat vir u meer tekse daaroor gee wat aansluiting vind by hierdie onderwerp, deur net op die woord in blou te kliek.

 

( Terug na Inhoud )

1. Christus het Sy opstanding voorspel: Matt. 16:21; 17:9 en 23.

2. Die opstanding van Christus word beskryf in Matt. 28:1-10 en Joh. 20:1-10.

3. Christus IS die opstanding - Joh. 6:39-40 en verse 44 en 54. Ons lees in hierdie verse dat Jesus geantwoord het "en Ek sal hom opwek in die laaste dag."

Ons lees verder in Joh. 11:25 "Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe."

4. Ons lees in die skrifte dat die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan - Dit staan so in 1 Thess. 4:16 geskrywe, maar ons lees ook in lKor. 15:23 "maar elkeen in sy orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms."

5. Die skrifte sê ook dat die regverdiges sal opstaan tot die lewe; want Luk. 20:29-38 lees dat die mense het aan Jesus gevra - oor die vrou wie se man tot sterwe kom en wat kinders van hom het, wat dan weer trou, ens. - wie se vrou sal sy dan wees by die opstanding? Maar as u nou mooi dink ten opsigte van die dood wat ons sterf om 'n nuwe mens te kan word of die dood wat ons moet sterf sodat ons kan lewe in Christus, dan sal u verstaan hoekom Jesus geantwoord het "maar die wat waardig geag word om die eeu en die opstanding uit die dood te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is." en in vers 38 "Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir hom."

Jesus wil uit hierdie vir ons sê dat dit nie 'n natuurlike opstanding is nie maar die geestelike, want ons moet die ou mens en sy vleeslike begeertes afsterf om 'n nuwe mens of 'n geestelike mens te kan word. Om tot God te kan bekeer moet nou gebeur en nie die dag wat die lewe die natuurlike liggaam verlaat nie, daarom vind die opstanding ook nou plaas. Die skrifte sê dat ons in die dood is, die dood deur die misdade en die sonde en dat ons uit hierdie dood moet opstaan tot die lewe.

Jesus het gesê dat die kinders van God nie meer sterf nie want hulle het klaar gesterf en leef nou. Jesus het ook gesê dat hulle soos engele is, want hulle is kinders van die opstanding. Dit is seker duidelik om te sien dat iemand wat sê dat hy 'n kind van God is, dat hy ook 'n kind van die opstanding moet wees, en ook dan is. Deur dit te sê, sê hy dan dat hy hom ook tot God bekeer het. Met ander woorde, hy het die bekering deelagtig geword en daarom het by ook die opstanding deelagtig geword.

Heb. 11:35 vertel ons "Vroue het hulle dode deur op standing gekry, en ander is gevolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan kry"

6. Die apostels is getuies en verkondigers van die opstanding van Christus, verwys na Luk. 24:36-49, Hand. 1:82 en 22 en 2:32 - Petrus sê "Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is."

7. Die eerste opstanding; Ons lees in 1 Kor. 15:23 "maar elkeen in sy eie orde; as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms." m.a.w. Christus het eerste die opstanding deelagtig geword en daarna elkeen wat aan hom behoort - die liggaam, die kerk - want soos ons ook weet en kan sien dat ons nie almal gelyk aan die liggaam van Christus - die kerk - behoort nie, daarom het Christus nie vir ons op dieselfde tyd gekom nie, en daarom sal hy ook nie vir ander op dieselfde tyd kom nie. Daaruit sal en kan ons ook nie almal gelyk die opstanding verkry nie.

Ons lees in lThess. 4:16 dat die wat in Christus gesterf het, die sal eerste opstaan.

Open. 20:5-6 vertel ons dat die ander dode, die dood deur die misdade en die sonde, het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Die vers lees ook "Dit is die eerste opstanding." vers 6 lees "Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding, oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank."

Ek wil u terug verwys na Hoofstuk 5 waar ons die geestelike dood beskryf het, in paragraaf 4 het ons oor die tweede dood gesels en dit is hierdie tweede dood wat geen mag oor hulle sal hê nie.

8. Die wedergeboorte is die lewende hoop wat bewerk is deur die opstanding van Christus; Joh. 3:3 en 5, Hand 23:6, 26:6-8 en 1Pet. 1:3 bevestig die opskrif van hierdie paragraaf.

1Pet. 3:21 verwys weereens van die agt siele wat deur water heen gered is "waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete - deur die opstanding van Jesus Christus."

9. Ons lees ook in die skrifte dat die gelowiges - die wat hulle tot God bekeer het, die wat die wedergeboorte deelagtig geword het, die wat aan die liggaam van Christus behoort, die kerk - die het gelykvormig geword aan die opstanding van Christus wanneer die werke van die ou mens afgelê word.

Rom. 2:7 en 6:2-14 - uit hierdie tekse wil ek 'n paar belangrike gedeeltes aanhaal; vers 3 sê dat ons in Christus gedoop is, en dat ons in Sy dood gedoop is. Vers 4 sê "Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in die nuwe lewe kan wandel." Ons kan hier uit sien dat wanneer ons in die nuwe lewe wil wandel, ons die ou mens nou moet afsterwe en nie eers wanneer ons natuurlike lewe be-eindig is nie, want ons moet ons nou met die nuwe mens beklee. Ons moet ons nou tot God bekeer en die wedergeboorte deelagtig word. Daardeur sal ons nou God se ewebeeld kan wees en ons sal in die nuwe lewe wandel - die geestelike lewe - want ons het nou 'n geestelike mens geword.

Vers 5 sê dat ons nou gelykvormig is aan Sy dood, dan sal ons dit ook wees aan Sy opstanding.

Vers 8 sê as ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.

Vers 11 "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.

Vers 13 wys vir ons baie duidelik dat die opstanding nou is en nie die opstanding van die natuurlike nie. "En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God."

Ons lees in lKor. 15:42 "So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid; daar word opgewek in onverganklikheid;" vers 44 "'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam." Die natuurlike liggaam wat gesaai word is die liggaam van die sonde - die dood, die misdade - en die liggaam wat opgewek word - die geestelike - is wanneer die wedergeboorte plaasvind en jy jou met Christus beklee m.a.w. met die nuwe mens beklee om dan 'n geestelike mens te wees.

2Kor. 5:17 "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword."

Ek wil ook die volgende tekse uit Efes. 2:1-6 aanhaal, "En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade is julle gered - en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus." Hierdie paar verse toon duidelik dat ons - die wedergeborenes - dood was soos die ander nog steed dood is vanweë die misdade en die sonde, maar dat ons opgewek en lewend gemaak is en sit saam in die hemele, let wel dat hier word gepraat van hemele in Christus. As ons terug dink aan wat die skrifte vir ons sê dat ons is lede in die liggaam van Christus en dat Christus die kerk is, dan kan ons verstaan dat dit moontlik is om saam met Christus in die hemele in Christus te sit. Ons moet egter altyd onthou dat ons nou besig is met geestelike dinge.

Kol. 3:1 "As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit." Moet nou nie verwag dat ons hierdie dinge waarvan gepraat word, nou bokant son, maan en die sterre moet gaan soek nie want u sal daar niks vind nie en dit is ook nie moontlik dat ons almal daar kan kom nie.. Die dinge wat ons moet soek is die geestelike dinge, want God is Gees. Die teks praat ook van daarbo, maar as u in Christus is - as u 'n lid in die liggaam is, as u 'n wedergebore mens is, as u 'n nuwe mens is -dan is u verhewe bo die ander want u is nou 'n geestelike mens, want daar waar Christus, die liggaam is, daar sal God wees..

Daar sal soms vir ons moeilike tye wees want ons vriende en familie sal ons uit lag en bespot maar die skrifte sê vir ons in 1Pet. 4:1-4 "Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het moet julle jul ook bewapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God. Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgodery. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster." Dit is vir ons duidelik genoeg wat daar vir ons uit hierdie teks gesê word.

( Terug na Bo )